Kinderblindheid is 'n ernstige saak

Published Dec 11, 2000

Share

Om hulpeloos te staan en toekyk hoe haar lieflingskind stadig maar seker blind word, is 'n lyding wat sy haar grootste vyand nie toewens nie, sê Mariette Marais, 'n maatskaplike werker van Durban.

Sy't altyd gedink sy is opgelei om enige krisis nugter te hanteer. Tot die dokter die dag vir haar sê haar aangenome driejarige het retinitis pigmentosa en sal gelukkig wees as sy tydens haar twintigste verjaarsdag nog kan sien.

Sy het haar as pap baba aangeneem en nêrens op haar mediese geskiedenis was iets van blindheid in haar voorgeslagte nie.

Mariette se hart is stukkend, maar haar gewete is skoon. Daar is niks wat sy kon doen om dit te voorkom nie.

Haar niggie in Pretoria kan nie dieselfde sê nie. Dié se sesjarige seun is blind nadat hy Nuwejaarsdag saam met die bure klappers geskiet het. Een van die vuurpyle het in sy oë ontplof toe hy wou gaan kyk hoekom dit nie afgaan nadat hy dit aangesteek het nie.

"Navorsing toon dat wêreldwyd 'n kind elke minuut van die dag blind word," aldus Herman Kluever, direkteur van die Buro vir die Voorkoming van Blindheid.

Hy sê in Suid-Afrika alleen is daar sowat 6 500 blinde kinders. "Dit klink dalk nie na veel nie, maar onthou dat anders as met volwassenes, daar vir elkeen van hierdie kinders 'n leeftyd se blindheid voorlê," noem hy.

Mariette glo mense soos haar niggie wat weet hulle kon iets gedoen het om hul kind se blindheid te voorkom, leef baie swaar met hul gewete saam.

"Katarak word beskou as die hoofoorsaak van blindheid by kinders," noem dr. Andries Marais, 'n oogspesialis van Pretoria.

"Dis oorerflik of kan veroorsaak word deur infeksies, soos wanneer 'n swanger vrou Duitse masels kry. Hoe vroeër in die swangerskap sy dit opdoen, hoe groter is die kanse dat die kind oogprobleme kan hê.

"Nog 'n siekte wat tot blindheid kan lei is glaukoom, waar die drukking binne-in die oog versteur word en mens dan geleidelik blind word," sê prof. Polla Roux, 'n oogspesialis aan die Universiteit van Pretoria.

Hoewel dit meer algemeen is onder ouer mense, word sowat 1 in 10 000 babas ook daarmee gebore.

Volgens die Buro vir die Voorkoming van Blindheid is daar heelwat dinge wat 'n ma behoort te weet as sy haar spruit die beste kans wil gee om normale sig te kan hê:

Dis wys om as jou kind ses maande oud is hom vir 'n roetine-ondersoek na 'n oogspesialis te neem. As daar niks fout is nie, sal hy gewoonlik vra dat jy die kleintjie weer op drie- en op vyfjarige ouderdom na hom bring.

Ernstige probleme wat tot blindheid kan lei, kan so die beste opgespoor word.

As jou kind 'n diabeet is, neem haar vir 'n oogondersoek sodra die siekte gediagnoseer is. Vra dan ook raad oor hoe gereeld daarna.

Kinders wat by geboorte minder as 1,2kg geweeg het, op jonger as 36 weke gebore is en te veel suurstof in die broeikas gekry het, staan 'n vyftig persent kans om aan retinopatie, 'n beskadiging van die oogvlies, te ly wat tot blindheid kan lei as dit nie gou behandel word nie.

Ambliopie

Dit staan algemeen bekend as 'n lui oog, 'n toestand waaraan drie persent van alle kinders ly. As een van die oë nie so sterk soos die ander een is nie, leer die kind om die ander een al die werk te laat doen.

Volgens oogspespesialiste is dit belangrik om dit reg te stel vóór die ouderdom van ses jaar, anders sal die slegte ogie nooit weer kan regkom nie.

Kyk mooi of jou kind nie sy koppie skeef draai om beter te kan sien nie. Dis egter ook moontlik dat mens glad nie kan sien daar is iets fout met een van die ogies nie.

Ongelukke

Hoewel mens nie elke minuut van die dag jou kind kan beskerm nie, is daar heelwat wat jy kan doen om ongelukke wat die oë kan beskadig, te voorkom. Of die skade wat aangerig is, tot 'n minimum te beperk.

Een van die algemeenste oorsake van oogbeserings is vuurwerke. As jy jou kind nie daarvan kan weghou nie, lig hom in oor alle veiligheidsaspekte, soos dat mens nooit moet gaan kyk na die ene wat nie wou afgaan nie; dat mens beskermende brille moet dra en altyd 'n tuinslang naby moet hou in geval daar vlamme ontstaan.

Sou die kind iets in die oog kry wat pla, moet die oog nie gevryf word nie. As mens die boonste ooglid oor die onderste een trek, verhoog die kanse dat so iets sal uitspoel. Gebeur dit nie, moet mens so gou moontlik by 'n oogspesialis uitkom.

In die geval van chemikalieë wat in die oog beland, spoel die oog uit met koue, skoon water vir ten minste 15 minute lank. Moenie probeer om enige medikasie daarvoor te gebruik nie en gaan so gou moontlik na 'n oogdokter.

Oppas vir ongelukke waar 'n kind naby is as jy besig is met iets soos houtwerk, sweis, of takke afsny in die tuin. En leer jou kind om nooit met 'n skerp voorwerp in sy hande te hardloop nie.

As 'n sportsoort beskermende brille of helms vir die kind voorskryf, soos skerm of krieket, maak seker dat dit gedra word.

Is die kleintjie reeds 'n brildraer, vra jou oogkundige vir spesiale buigbare sportbrille met rubberrame en lense van polikarbonaat, wat sal verseker dat die brille nie die oorsaak van enige oogbeserings sal wees nie.

Normale visie

Hoe weet 'n ma of haar kind se oë normaal is?

Oogkundiges noem dat mens gerus maar gereeld self kan seker maak dat jou kind op 'n afstand van 20 tot 30 sentimeter kan lees; deeglik verby armafstand kan sien; hy altwee sy oë saam en gelyk gebruik en dat sy hand-oog koördinasie flink is.

Soek raad as jy sien jou kind kyk net met een oog na die boek voor hom; as hy sy vinger gebruik om plek te hou; baie hoofpyne kry of gedurig woorde uitlaat as hy lees.

Kindermishandeling

Kinders wat mishandel was - veral dié wat kophoue gekry het - moet so gou moontlik vir oogtoetse na 'n spesialis geneem word om seker te maak daar is nie permanente oogskade nie.

As daar twyfel is oor die graad van mishandeling, of dit gedoen is deur die baba te skud, kan dit ook met 'n oogondersoek bevestig word.

Volgens mediese dokters is dit nie ongewoon dat erg mishandelde kinders gou blind raak nie.

Leerprobleme

Oogspesialiste noem dat skaam kinders wat dikwels stilbly as hulle nie op die bord kan sien nie, die draad van 'n vakgebied - veral iets soos wiskunde of 'n vreemde taal - kan verloor en dan verkeerdelik gediagnoseer word met leerprobleme.

"Kinders met leerprobleme se ma's behoort as roetine ook hulle oë te laat toets," sê Leonore Kriel, 'n arbeidsterapeut.

Jou slim kind kan 'n ernstige agterstand kry as hy 'n lang tyd op die skoolbanke deurbring terwyl hy sukkel om behoorlik te sien, glo sy.

Ander oorsake van blindheid

'n Tekort aan vitamiene A kan veroorsaak dat die horingvlies, bekend as die buitekantste venster van die oog, beskadig raak.

Infeksies - veral as dit lank aanhou sonder behandeling - kan uiteindelik tot sigverlies lei.

Toksoplasmose, 'n baie skaars siekte wat swanger vroue kan kry as hulle rou vleis eet, daarmee werk of in direkte kontak met katmis kom, kan meebring dat hul babas gedeeltelik of volkome blind gebore word.

Nog wenke

- Ouers van kinders wat reeds een oog verloor het, moet twee maal dink voordat hulle die kind aan 'n kontaksport laat deelneem.

- Hou jou kind weg van 'n grassnyer of 'n randsnyer af.

- Vlieënde klippies of selfs grond kan ernstige oogbeserings veroorsaak.

- Hou gevaarlike sproeimiddels en gifstowwe ver van jou kind se bereik af.

- Moenie 'n laerskoolkind alleen laat met 'n pylgeweer of 'n windbuks nie. Sluit dit ook agter slot en grendel toe in die huis.

- As jou kind 'n hou op die oog gekry het, is dit moontlik dat die skade vir 'n leek eers na 'n tydperk sigbaar kan wees. Dit kan dan al te laat wees. Neem sulke besering dus so gou moontlik na 'n oogspesialis.

- 'n Kind wat agter in die motor ry met 'n veiligheidsgordel aan, se kanse om gevaarlike oogbeserings op te doen tydens 'n ongeluk, is minder. Die gevaarlikste plek is op die voorsitplek op 'n volwassene se skoot.

Waarskuwingstekens

'n Oogspesialis moet so gou moontlik gaan sien word in die volgende gevalle:

- As een of albei die oë se pupille wit vertoon.

- As 'n ooglid begin hang of sak.

- As een van die oë se pupille groter as die ander een lyk.

Navrae kan gerig word aan:

Die Buro vir die Voorkoming van Blindheid: tel (012) 346-1171

Related Topics: