Veluitslae - die jeukende kinderplaag

Published Jan 18, 2001

Share

Die vel, die liggaam se grootste orgaan, verrig die volgende belangrike funksies wat 'n rol speel by veluitslag.

- Beskerm die inwendige organe teen besering, nadelige sonstrale en indringing van bakterieë.

- Dien as tassintuig om pyn, temperatuur, druk, aanraking en jeuk waar te neem.

- Reguleer die liggaamstemperatuur.

Wanneer selle van die vel afgeleef is, skilfer dit af en word deur nuwes vervang.

Indien die vel se buitenste laag, die epidermis, beskadig word, verloor die vel sy vermoë om water te hou en elastisiteit te bevorder.

Daarteenoor, indien die dermis beskadig word, affekteer dit die onderskeie strukture soos haarfollikels, sweetkliere, talgkliere, asook bloedvate, limfvate en die senuwee.

Hoe ontstaan 'n veluitslag?

'n Jong baba het 'n teer vel met min weerstand teen wrywing en ontsteking. Enige versteuring of verandering in die vel se tekstuur en funksie, asook siekte, kan vel- en gesondheidsprobleme veroorsaak.

Ontsteking van 'n kind se vel kom voor wanneer kieme 'n ingang deur die vel se buitenste laag, wat dalk droog en afgeskilfer is, kry.

Die meeste vorms van veluitslag kan geëien word aan hulle kenmerkende voorkoms. Die ervare oog van die geneesheer is vir sekere van hierdie uitslagtipes nodig.

Dit is dus belangrik dat ouers weet hoe om tussen die tipes uitslag te onderskei met inagneming van elke kind se immuniteit, voedingstatus, familiegeskiedenis, versorging en allergie- en gesondheidstatus.

Veluitslag kan as 'n ekseem gediagnoseer word, verband hou met 'n spesifieke siekte of 'n allergiese reaksie wees.

In die laaste geval gee vrystelling van histamien dan aan jou kind die beeld van die soort uitslag wat hy kry.

Om vas te stel wat die probleem veroorsaak, is nie maklik nie, want daar kan moontlik twee of meer probleme wees.

Dis egter wys om die waarskynlikste oorsaak te elimineer.

Uitslaptipes - riglyne

1. Hitte-uitslag

Oorsaak: Ontstaan deur oorverhitting.

Kenmerke: Klein opgehewe pienk knoppies verskyn rondom die nek, gesig, armholte en lies.

Behandeling: Trek baba net 'n doek of frokkie aan op 'n warm dag. Trek baba net een lagie klere meer aan as waarin jyself gemaklik sal voel. Voel aan die kind se bors/rug/nek met gereelde tussenposes om te sien of hy te warm is.

2. Melk

Oorsaak: Hormonale verandering.

Kenmerke: Pasgeborene se gesig is bedek met 'n rooi uitslag.

Behandeling: Geen behandeling nodig nie - die vel herstel vinnig.

3. Milia/melkknoppies

Oorsaak: Tydelike blokkasie van sweetkliere.

Kenmerke: Klein geel-wit knoppies verskyn rondom pasgeborene se neus en wange.

Behandeling: Geen behandeling nodig nie. Moenie aan die knoppies druk nie - dit sal die fyn vel beskadig.

4. Luieruitslag

Oorsaak: Hierdie toestand ontstaan dikwels wanneer 'n kind te lank in 'n vuil doek gelaat word - urine in die babadoek word afgebreek in ammoniak deur bakterieë in die stoelgang.

Kenmerke: Dit begin op die genitalieë en versprei na die boudjies. Die vel is is rooi, skubberig en jeukerig en dit kan in sere ontaard indien onbehandeld gelaat word.

Behandeling: Ruil 'n nat/vuil doek dadelik. Was area met seep en water. Droog behoorlik af. Smeer luieruitslag-salf na elke doekomruiling en badtyd aan. Stel baba se boudjies aan vars lug bloot.

5. Sproei

Oorsaak: Fungus (candida albicans) - normaalweg gevind in die ingewande en onder beheer gehou deur bakterieë, veroorsaak hierdie probleem. Dit kom baie by kinders met 'n lae immuniteit voor of met die gebruik van antibiotika wat fungus laat groei en infeksie op die boude en mond veroorsaak..

Kenmerke: Tas die mond, vel of sisteem aan. Kom van:

* moeder se vagina/tepels

* gekontamineerde hande

* gekontamineerde items, byvoorbeeld onsteriele bottels

* anale sproei begin rondom die anus en versprei na die boude. Die uitslag is rooi opgehewe, pynlike knoppies (kan verwar word met luier-uitslag).

Behandeling: Gesels met jou dokter. Hy sal antifungus-medikasie vir die in-gewande en/of salf vir die uitslag voorskryf.

6. Roseola infantum (babamasels)

Oorsaak: Virusinfeksie. Geen definitiewe oorsaak.

Kenmerke: Gewoonlik by kinders onder twee jaar. Hoë koors (39.5 - 40.5°C). Daarna vind 'n skielike daling in temperatuur plaas. Pienk uitslag oor die bors en buik (matig oor die gesig en ledemate) na drie na vier dae. Verdwyn na 'n dag of twee.

Behandeling: Raadpleeg jou dokter en laat die diagnose bevestig. Verlaag die temperatuur deur baba af te spons en dien koorswerende medikasie toe. Laat die kind genoeg vloeistowwe inneem. Bly weg van swanger vroue - die virus kan 'n miskraam laat plaasvind.

7. Omloop/douwurm

Oorsaak: Hoogs-aansteeklike fungus. Versprei deur direkte kontak met die draer van atleetvoet of omloop.

Kenmerke: Inflammasie in die vliesarea tussen die tone (atleetvoet). Kan op die kopvel voorkom. Lyk droog en skilferagtig. Word groter en sirkelvormig na een of twee dae en is plat in die middel met 'n opgehewe rand.

Behandeling: Raadpleeg jou dokter. Vir kopvelomloop help mondelikse medikasie en 'n medisinale sjampoe (dit kan tot drie maande neem om te verdwyn). Gebruik totdat letsel verdwyn.

8. Kontakdermatitis

OorsaakK: 'n Hipersensitiwiteitsreaksie na blootstelling aan 'n irritant wat chronies kan word.

Kenmerke: Uitslag op area van kontak met byvoorbeeld klere gewas met sekere waspoeier. Jeuk, rooiheid, blasies en skilfering. 'n Mens kan allergies raak vir iets wat jy al jare gebruik.

Behandeling: Gesels met jou dokter om vas te stel of dit ware ekseem is voordat behandeling voorgeskryf word. Moenie die kind te dik aantrek nie. Gebruik suiwer katoen en sintetiese stowwe vir babaklere en -kombersies. Gebruik suiwer seep (nie gewone huishoudelike seeppoeiers nie) om klere en beddegoed mee te was. Hou naels kort om infeksie te voorkom (moenie die kind se hande bedek of toedraai nie).

9. Ekseem/allergiese velontsteking/atopiese dermatitis

Oorsaak: Allergiese reaksie teen kossoorte in die kind se dieet, byvoorbeeld koeimelk, sjokolade, aarbei, eierwit, neut, varkvleis, skulpvis, vis, sampioene, kleur- en preserveermiddels. Die neiging tot ekseem word oorgeërf en is nie oordraagbaar nie.

Kenmerke: Gewoonlik nie by die luierarea nie. Skurwe rooi kolle op gesig, uitslag en skurwe kolle op arms en bene.

Rooiheid, swelling en speldekopblasies ontstaan as gevolg van die vrystelling van histamien in die weefsels rondom die plek waar die ekseem voorkom. Wanneer die blasies bars, is die area nat en jeukerig. As dit droog word, word die vel skubberig en grof.

Ekseem ontwikkel in die waai van die arms en die bene. Sweet vererger die toestand en die lyer is sensitief vir temperatuuruiterstes.

Kind is rusteloos, prikkelbaar en ongemaklik. Die toestand kom en gaan en gee sodoende 'n ruskans.

Behandeling: Bad in 'n emulgerende middel. Voeg een or twee teelepels sonneblomsaadolie by die badwater (nie babaolie nie). Voeg linoleiensuur (vitamien F) by die dieet - linoleiensuur is in die olies van sade van mielies, sonneblom en lynsaad.

Moenie die kind met antiseptiese seep bad nie. Wees versigting vir room/salf met lanolien, want dis 'n allergeen.

Begin middels wat vermy is, stadig toevoeg, een vir een, (een elke week) as die veluitslag weggaan. Hou dan dop watter middel die uitslag veroorsaak.

10. Seboree-dermatitis

Kenmerke: Papilêre eriteem bedek met fyn haarskilfers. Oor hele luierarea, veral in die velvoue - vel voel grof en droog.

- Kopvelseboree ("cradle cap")

Kenmerke: Haarskilfers - kan vererger word deur ekseem. Rooi, jeukerige, vetterige en afskilferende areas op suigelinge se kopvel of op die voorkop, wenkbroue en ooglede van persone met haarskilfers.

Behandeling: Behandel die kopvel. Wend hidrokortisoon aan velletsels. Wend olyfolie aan die aangetaste area en laat oornag aanbly. Was behoorlik met seep en water die volgende dag af.

11. Suigelingekseem

Kenemrke: Ekseem met oormatige afskilfering van die nerfvel of horinglaag van die epidermis. Groot nat kolle word agtergelaat op die epidermis as gevolg van ekseem. Kom voor veral tussen die tweede en die vyfde lewensweek.

Atopiese dermatitits kom voor as komplikasie van luieruislag weens oorverhitting van die vel. Wees versigtig vir plastiekbroekies wat oor luiers aangetrek word.

12. Netelroos of galbulte (Dermatits medicamentosa)

Oorsaak: Allergiese reaksie op medikasie soos penisillien, aspirien. Inwendige parasiet soos lint- en ander wurms.

Kenmerke: Jeukerige uitslag wat lyk soos hitte-uitslag in stroke. Opgehewe rooi swelsels wat soos latmerke lyk as gevolg van die vergroting van bloedvate en vrystelling van vloeistof.

Simptome verdwyn binne 48 uur nadat behandeling begin is. Infeksie kan ontstaan as blasies vorm en hulle gekrap word.

13. Papular urticaria

Kenmerke: Uitwendige parasiet soos byvoorbeeld vlooie en insekte.

Behandeling: Voorkom vlooibyte met timienhipochloried (vitamien B1) mondeliks - dit maak die vel bitter sodat vlooie nie byt nie.

14. Aktiniese dermatitis

Oorsaak: Word veroorsaak deur stowwe wat ingeasem word, soos huisstof, vere, pels van katte/honde/perde, sproeimiddels. Ook deur temperatuuruiterstes tydens blootstelling aan skerp sonlig of kwaai koue.

Behandeling: Isoleer die oorsaak. Gebruik antihistamien wanneer simptome en jeuk erg is. Gesels met jou dokter oor hoe om jou kind te desensitiseer.

Related Topics: