Wat is (baba se) slaap 'n wondersoete ding!

Published Feb 27, 2001

Share

Na nagte se min slaap wonder jy soms of jy nie skuld daaraan het dat jou kind nie die nag deurslaap nie. Jy kan jouself ook nie juis troos met die goed-bedoelde mening van vriende en familielede dat moederskap (en vaderskap?) noodwendig met onderbroke slaap gepaard gaan nie.

Slaapprobleme word dikwels veroorsaak deur ouers wat (onbewustelik) hulle kinders nie toelaat om die nodige slaap te kry nie.

Jy kan jou kind leer om 'n goeie nagrus te kry. Hoe vroeër jy begin, hoe makliker vestig jy 'n gesonde slaapgewoonte. Hoe langer jy dit uitstel, hoe weerstandiger word die baba teen die leerproses.

Die maatreëls moet egter by jou lewenspatroon inpas - wat vir sommige persone werk, werk nie noodwendig vir jou nie.

Hoeveel slaap is nodig?

Ons almal het 'n behoefte aan 'n bepaalde hoeveelheid slaap en sal slaap as ons dit nodig het, tensy ons erg ongemaklik is, soos wanneer ons honger is.

Soos jy ouer word, het jy al minder slaap nodig. Mense se slaapbehoeftes verskil uiteraard.

Babas wat nie gesondheids- of neurologiese probleme het nie, is biologies geprogrammeer om op hul eie aan die slaap te raak van 4 - 6 maande, sonder om gevoed, vasgehou of gesus te word.

'n Baba van een jaar het 14 uur slaap nodig, teenoor die sowat 12 uur van 'n kind van vyf jaar en 7 - 8 uur van 'n volwassene.

Babas se temperament, wat hul slaappatrone affekteer, kan wissel van slaperig tot baie op en wakker.

Kinders assosieer slaap met verskillende tye van die nag. Vroegaand is hulle dalk gewoond om in die ouers se bed aan die slaap te raak. Later in die nag sal hulle byvoorbeeld aan die slaap gesus word as hul wakker word.

Elkeen het 'n patroon van honger wees en eet, aktief wees en rus, slaap en wakker word en verandering in liggaamstemperatuur en hormoonvrystelling.

'n Kind kan sukkel om aan die slaap te raak indien sy liggaamstemperatuur en kortisolvlakke hoog is.

Ouers moet ook ag slaan op die manier waarop hulle in die dag van hul kind afskeid neem. Glip jy weg sonder om tot siens te sê en sonder die kind te vertel dat jy terugkom? Is dit nie hoekom hy nie snags van jou wil skei nie?

Wat is slaap?

Slaap is 'n periodieke toestand van verlaagde bewustheid waartydens die liggaamsmetabolisme afneem.

'n Slaper kan maklik gewek word deur 'n pynlike stimulus, 'n harde geluid of selfs liggaamlike ongerief soos 'n vol blaas.

Slaap is uiters belangrik vir ons fisieke en verstandelike gesondheid en swak slaapgewoontes kan jare se probleme veroorsaak.

Wanneer begin slaapprobleme?

Werkende ouers laat kinders soms later gaan slaap omdat hulle die hele dag min van hul kinders sien en dalk skuldig voel.

Dan kry albei partye nie genoeg slaap nie. Te veel stimulasie rondom bedtyd, byvoorbeeld rowwe speletjies, of stories of programme wat sy verbeelding prikkel of hom ontstel, kan jou kind onwillig maak om te gaan slaap.

Jong kinders kan nie fantasie van realiteit onderskei nie en vrese word in hul slaap ingesluit. Snags is hulle emosionele weerstand laag. Oorstimulasie kan dan lei tot nagmerries.

'n Kind se slaappatroon kan ook ontwrig word deur emosionele veranderinge soos verhoudingsprobleme in die huis, soos egskeiding, dood in die familie en mediese probleme soos oorinfeksies en wurmbesmetting.

Peuters is geneig om te manipuleer en sal eindeloos soentjies en drukkies bedel om jou naby hul te hou.

Die ouer kind bied weerstand om aan die slaap te raak. Moenie toegee aan peuter se geneul nie en verander die groter kind se roetine deur slaaptyd vroeër te maak. Hy reageer nogal op 'n beloning om sy gedrag te wysig.

Gevolge van slaapverlies

Ons almal het slaapsiklusse waarin die breinaktiwiteit toe- of afneem van wakker wees tot stadium vier (die diepste slaap).

As jy wakker word uit die ligste slaap, sink jy gou weer terug, tensy jy gespanne is of deur ander stimuli wakker gehou word.

Party kinders het hulp nodig om weer tot rus te kom en daarom moet jy jou baba leer om self aan die slaap te raak.

Te min slaap laat 'n mens lomerig en geïrriteerd voel. Jy kan nie behoorlik konsertreer nie en voel asof jy nie normaal fuksioneer nie.

Herhaalde nagte van min slaap vererger die simptome en kan selfs noodlottige gevolge hê, soos om aan die slaap te raak terwyl jy bestuur.

Dit veroorsaak uiteindelik 'n verswakte immuunstelsel, angstigheid en spanning.

Ouers wat maande lank min slaap kry, voel naderhand desperaat en selfs woedend omdat hulle nie beheer oor hulle lewens kan uitoefen nie.

Ma's wat te min slaap kry, raak kort van draad teenoor die gesin en ontwikkel verhoudingsprobleme met hulle mans.

Dis 'n mite dat verlore slaap ingehaal kan word deur byvoorbeeld die aand na 'n slaaplose nag vroeg in die bed te klim.

Persone wat te min slaap kry, toon 'n onvermoë om take tuis of by die werk af te handel; om dinge vinnig gedoen te kry en om nuwe take aan te pak.

Hulle kan nie helder dink nie en raak gefrustreerd omdat hulle met niks vorder nie. Dit lei tot 'n lae selfbeeld en twyfel aan hulle eie vermoëns, wat meebring dat hulle meer foute maak en minder effektief in hul werk raak.

In die sakewêreld is daar nie simpatie vir werknemers wat nie hulle werk behoorlik kan doen omdat die kroos by die huis hulle wakker hou nie.

Raad vir slaapversteurings

Probeer altyd die onderliggende oorsaak, byvoorbeeld pyn, honger, depressie, siekte of 'n gevoel van onveiligheid by die kind, behandel.

'n Tydelike slaapprobleem word herstel wanneer omstandighede na normaal terugkeer. As jy in die nag wakker word, lees 'n boek, luister na musiek, doen breiwerk of handel takies af waarvoor jy in die dag nie tyd het nie.

Primêre insomnia kan verlig word met die tydelike gebruik van 'n hipnotikum (kalmeer- of slaapmiddel).

Die meeste slaapmiddels is egter afhanklikheidvormend en word dus nie vir gereelde gebruik aanbeveel nie.

As jou slaapprobleem chronies word en jou gedurig tam of bedruk laat voel, moenie dit self probeer behandel met patente middels nie. Spreek jou huisarts vir behoorlike evaluasie van jou probleem.

'n Kind wat bedags onder te veel druk en spanning verkeer en moontlik te veel gestimuleer word, beleef die spanningsituasie soms snags in sy onderbewussyn en kry nagmerries.

Hy kan wakker word en bitterlik huil of gil en paniekerig rondwoel. Moontlike oorsake is die aankoms van 'n nuwe baba, verhuising, kwaai dissipline, gedwonge toiletonderrig, konflik tussen ouers, onopgeloste vrese, depressie of eensaamheid.

Reageer so gou moontlik en troos die kind sonder veel ophef. Stel die oorsaak van die ontsteltenis vas en ruim dit uit die weg as jy kan.

Nagvrese, gekenmerk deur 'n kort, skrikwekkende droom, kom gewoonlik voor by persone wat aan angs en kwaai stres blootgestel word.

Die kind kan beangs gil en orent sit en met wydoop oë na 'n onsigbare vreesobjek staar. Indien onderliggende angs vermoed word, is die hulpmiddels gewoonlik iets soos kalmeermiddels of anti-depressante, terwyl dit ook noodsaaklik is om die kind se gemoedsrus te herstel.

Somnambulisme (slaaplopery) - begin van twee tot drie jaar, bereik die piek op ses tot sewe jaar en verdwyn teen 11 tot 12 jaar.

Kinders ontgroei dit in 90 persent van die gevalle. Die kind loop in sy slaap rond en kan gedeeltelik wakker word in 'n angsbevange toestand.

Hy sal miskien in sy slaap praat, op 'n onvanpaste plek urineer en in 'n verkeerde bed terugklim. Slaapwandelaars val selde van hoë plekke af, maar stamp hulself soms blou.

Moontlike oorsake is ongelukkigheid met hul omstandighede, die stres van 'n verhuising of eksamen of dergelike angstigheid.

Moenie probeer om die persoon wakker te maak nie, maar lei hom rustig terug na sy bed toe. Plaas 'n hindernis voor gevaarlike plekke soos trappe om beserings te voorkom.

Enurese (bednatmaak) word met die tyd ontgroei indien daar nie onderliggende mediese of sielkundige oorsake is nie.

Dit kan egter ook spanning en slaapverlies vir die ouer en kind inhou. Al wat jy hieraan kan doen, is om die probleem te aanvaar en te hanteer met inagneming van die kind se ouderdom en emosionele status.

Toestande wat met slaapsteurnis verband hou waaroor jy onverwyld die dokter moet raadpleeg, is:

oorinfeksie/afskeiding uit die oor; onbeheerbare gehuil/geskree wat klaarblyklik te wyte is aan erge pyn; wanneer jy nie die kind kan wakker kry nie/ hy buitengewoon slaperig is/sy bewussyn verloor; moeilik, vinnig of met steungeluide asemhaal; die vel en lippe blou vertoon; sy temperatuur 38.6°C oorskry en koorswerende metodes dit nie laat daal nie; hy bleek en lusteloos is en nie op normale stimulasie reageer nie; hy nie soos normaalweg beweeg nie; hy meer as twee opeenvolgende etes weier.

Hoe om 'n goeie slaaproetine te vestig

1. Lê die baba neer wanneer hy nog wakker is sodat hy daaraan gewoond kan raak om self aan die slaap te raak.

2. Speel musiek of 'n opname van eentonige geluide soos 'n stofsuier naby die wiegie om hom lomerig maak.

3. Hou die kamer donker gedurende die dagslapies sodat die dag- en nagsiklusse nie verwar word nie.

4. Moenie snags met die baba speel of gesels as jy hom voed nie.

5. Vermy oorverhitting - trek die baba gemaklik aan en moenie te veel kombersies gebruik nie.

6. Vermy 'n "kruk", soos wieg, sus, 'n fopspeen of ure se borsvoeding in die nag.

7. Vestig 'n bedtydroetine waartydens alles (eet, bad, storie lees, ensovoorts) op vasgestelde tye geskied. Begin die roetine vroeg in sy lewe. Soos die kind groter word, sal hy die grense probeer oorskry - moet hom egter nie toelaat nie!

8. Maak slaaptyd 'n rustige, gelukkige tyd.

9. Laat 'n nagliggie brand - baie kinders hou nie van algehele donker nie.

10. Skuif 'n baba vroeg na sy eie kamer, reeds op drie maande, aangesien hy reeds op ses maande skeidingangs sal begin ervaar.

11. Beperk vloeistowwe in die laatmiddag en voor bedtyd en maak seker die kleuter ledig sy blaas voordat hy gaan slaap.

12. Moenie 'n ouer kind leer om snags, as hy wakker word, melk of sap te drink nie. Sorg dat hy genoeg eet - babas het trouens nie eens voedings snags nodig na die ouderdom van ses maande nie.

13. Kleintjies kry emosionele sekuriteit uit hulle omgewing - probeer dus om nie die meubels te verander as julle byvoorbeeld verhuis nie.

14. Moenie die kind by jou in die bed tel as jy nie gewillig is om hom in die toekoms daar toe te laat nie. Neem hom elke keer terug na sy eie bed.

15. Moet nooit die gevaarlike kortpaadjie volg om jou kind 'n pynstiller in te gee om hom te laat slaap nie - doen moeite om uit te vind wat hy regtig nodig het.

Related Topics: